Drukpers

'n Drukpers is 'n toestel waarmee ink op 'n eweredige manier op 'n oppervlak, soos papier of lap, aangebring kan word. Die uitvinding van verspreiding van die drukpers was een van die invloedrykste gebeure in die tweede millennium[1] en het die manier waarop mense hulle wêreld verstaan en beskryf gerewolusioneer en die moderne era ingelui.[2]

Gutenberg se drukpers

Die drukpers is rondom 1440 in die Heilige Romeinse Ryk deur die Duitser Johannes Gutenberg uitgevind. Dit was op die reeds bestaande skroefpers gebaseer. Gutenberg, 'n goudsmid, het 'n volledige drukstelsel ontwikkel waardeur hy die drukproses vervolmaak het deur bestaande tegnologieë aan te pas en sy eie uitvindings te gebruik. Die drukpers het binne dekades na meer as tweehonderd stede in twaalf Europese lande versprei.[3] Teen 1500 was drukperse regoor Wes-Europa in gebruik en is daar reeds meer as twintig miljoen boekdele gedruk.[3] In die 16e eeu het hierdie syfer na 'n beraamde 150 tot 200 miljoen gestyg.[3] Die drukpers het so sinoniem met die drukkersbedryf geraak dat dit aan 'n hele nuwe media-afdeling sy naam gegee het, naamlik die pers.[4]

Gedurende die Renaissance het die koms van meganiese beweegbare letterdrukkuns die era van massakommunikasie ingelui wat die struktuur van die samelewing permanent verander het: Die relatief onbeperkte sirkulasie van inligting en (rewolusionêre) idees het grense oorgesteek, die massas by die Hervorming betrek en die mag van politieke en godsdienstige maghebbers bedreig. Die skerp toename in geletterdheid het die geletterde elite se monopolie op onderwys en geleerdheid verbreek en die opkomende middelklas versterk. Toe die handaangedrewe Gutenberg-styl drukpers in die 19e eeu deur die stoomaangedrewe rolperse vervang is, kon daar op industriële skaal gedruk word.[5]

  1. In 1999 het die A&E Netwerk Gutenberg in die eerste plek op hulle "Persone van die Millennium"-lys geplaas. In 1997 het die Time-Life tydskrif Gutenberg se drukpers as die belangrikste uitvinding van die tweede milllennium gekies. In die Katolieke Ensiklopedie se inskrywing van Johann Gutenberg word daar geskryf dat sy uitvinding 'n ongeewenaarde kulturele impak in die Christelike era gehad het.
  2. McLuhan 1962; Eisenstein 1980; Febvre & Martin 1997; Man 2002
  3. 3,0 3,1 3,2 Febvre, Lucien; Martin, Henri-Jean (1976): "The Coming of the Book: The Impact of Printing 1450-1800", Londen: New Left Books, aangehaal in: Anderson, Benedict: "Comunidades Imaginadas. Reflexiones sobre el origen y la difusión del nacionalismo", Fondo de cultura económica, Meksiko 1993, ISBN 978-968-16-3867-2, pp. 58f.
  4. Weber 2006, p. 387: Toe die drukpers in sy fisiese, tegnologiese hoedanigheid uitgevind is, het gelyketyd 'die pers' in die uitgebreide betekenis van die woord, dan ook die historiese verhoog betree, en die publikasie-fenomeen is gebore.
  5. Gerhardt 1978, p. 217

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search